Nuwe jaar, nuwe voornemens. En ek begin hom met ‘n stappie. Sommer in die straat op, om die sportgrond en die skool en weer terug – verby slapende honde en tuine met lang gras, oop vensters met toegetrekte gordyne van slaapkamers waar mense vir die plafon lê en staar en vir hulleself se: “Hierdie jaar is my jaar,“. Of miskien lê party nog suf en poep ruik sonder ‘n duidelike gedagte. By die een huis is pappie uit met die grassnyer. Moeg gelê, of dalk moeg opgestaan vir die prostaat. (Mooi groot kanna’s, dink ek.) En nou sny hy gras sonder om op te kyk. So vir die nuwe jaar se goeie bedoelings. Iewers in die huis lê Mammie nog stug in die bed – vies vir die vet van die feesgety wat haar boude dieper in die matras trek. En vies vir haar man wat die weed eater nou bo haar verkies.
En ek stap verby met my jaar in my kop – die een wat voorlê – en ek beplan my blog sodat ek kan kop skoonmaak.
Toe Ma se neef Lukas met die glasoog destyds kom kuier het, redelik teruggetrokke, seker oor die oog en alles, het Ma een sondag poeding gemaak by die ete. Met tuisgemaakte vla. Toe Lukas die vlabeker in die hande kry, was ons almal se aandag op hom. Hy’s die gas, so hy kry eerste. Daarom het die vla nog die velletjie op. En Lukas gooi versigtig sodat hy genoeg vla op sy asynpoeding kry – sonder die velletjie. Miskien het hy geskrik vir Pa wat die borde stapel, maar voor hy weet wat, glip die velletjie deur die tuit en oor sy poeding. En daar sit Lukas met meer as wat hy verwag het.
So gaan my blog ook wees. Net genoeg, nie te veel nie. Maar soms sal die velletjie tog deurglip. En dan moet julle maar anderkant uit lees. Want dis wie ek is en daar is soveel te vertel. Stap saam en gesels gerus terug. ‘n Goeie purgasie is dalk wat ons almal se koppe nodig het.
Friday, January 1, 2010
Subscribe to:
Posts (Atom)
