Saturday, July 30, 2011

Lost and found

(A la recherche du temps perdu.)

Ek hoor jou asem soms in 'n ander vertrek, ek weet dat jy my wil terughou wanneer ek op pad uit is, dat jy doelloos deur die huis dwaal wanneer ek nie daar is nie, verslae oor dit wat was en nooit weer kan wees nie, en ek voel soms hoe jy liggies op die rant van die bed kom sit wanneer ek slaap en desperaat aan my hand probeer vat. Partykeer hunker my lyf na jou in oomblikke wanneer ek so kwesbaar is teen hierdie dawerende wêreld. Maar daar is nou 'n muur tussen ons. Die hitte van jou liggaam kan ek nêrens meer in my koue bed vind nie, ek sukkel om die klank van jou stem te onthou en my hande vergeet die vorm van jou lyf. Ek weet jy is daar. Maar ek weet ook jy is weg, want ek het jou verloor.

In 'n tyd lank gelede toe die soel nagte ons keer op keer soggens uitgespoel het teen die kus van net nog 'n verstikkende subtropiese dag, het Pa een oggend vroeg deur die kombuisvenster op 'n verlate agterplaas uitgekyk en gesê: "Die hond is weg." En niks was daarna ooit weer dieselfde nie.

Ons het die strate op en af deursoek en by elke voetganger gestop om 'n kort beskrywing af te rammel, net om weer verder te soek. Nog nooit was die bekende omgewing vir my so vreemd en onvriendelik nie. Die wêreld het nie geweet nie. Die wêreld het nie omgegee nie. Die wêreld het doodluiters aangegaan met inane dagtake, heeltemal koud gelaat deur die verlies wat soos 'n klip in my hart kom lê en my vir altyd verander het.

Die dae en weke het verbygegaan. Die hoop het vervaag en die soektogte het minder en korter geword. Maar die leegheid het gebly. Saans het ek na die veraf geblaf van honde gelê en luister en gewonder watter een ons hond was. En dan het die slaap my oorval om my tydelik te verlig van die magteloosheid. Die hondebakke is weggevat en die hond se paadjie langs die heining het begin toegroei.

Maar op 'n vroeë wintersdag, op pad iewers heen, het Pa op die ingewing afgedraai en gesê: "Kom ons kyk of hy nie hier is nie." Vae hoop het weer opgevlam. Ek en Pa het die lang stegies tussen hokke deurgeloop en Pa het by party gehuiwer om te kyk of hy nie bekendheid in die oë van 'n vreemde hond kon raaksien nie. Ek het stip voor my uitgekyk – te bang vir die seer van hopeloosheid.

In die laaste stegie het ons weer by hok na hok verbygeloop, maar my oë het nie afgewyk van die rooi baksteenmuur aan die einde van die stegie nie. Die muur was vir my die einde van ons hoop - tot daar en nie verder nie. By die heel laaste hok, vlak langs die muur, het Pa vasgesteek en gesê: "Hier's hy. Hier is ons hond. Hier is my bokserhond." En voor ek aan die rooi stene kon raak, het ek die blydskap in die hond se oë gesien en die son het skielik in my oë geskyn. En toe het ek geweet: die einde is nie altyd net 'n einde nie. Dis ook 'n nuwe begin. En daar is altyd, altyd hoop.

Ek sal jou nooit vergeet nie. Sien jou aan die ander kant van die rooi baksteenmuur. Maar vir eers het ek 'n paar dinge om hier te doen.


 


 

No comments:

Post a Comment